Spesifiseer altyd nuwe waardevolle items by jou versekering!

Is al jou nuwe waardevolle items ingesluit by jou versekeringskontrak? Daardie nuwe selfoon en iPad of rekenaar word te dikwels nie gespesifiseer in ons versekeringspolisse nie en dit lei tot groot ongelukkigheid tussen die versekerde kliënt en sy versekeraar of makelaar!

Ek was die afgelope week aangenaam verras hoe bekostigbaar dit kan wees wanneer jy ‘n nuwe item byvoeg by jou versekering – en hoe maklik dit is! Ek het 2 nuwe items aangekoop wat nou nie as “speelgoed” of “luukse items” beskou kan word nie, maar wat ‘n waardevolle bydrae kan lewer tot my werk.

Die een is ‘n behoorlike rekenaarskerm om te gebruik by die kantoor en die ander is die GoPro HD kamera! Ek is maar van nature aan die versigtige kant en deeglik bewus dat ten spyte van die beste voorsorgmaatreëls en sekuriteit daar tog dikwels onvoorsiene gebeurtenisse plaasvind wat skade of verlies van eiendom kan meebring.

Daar het juis, ten spyte van elektriese heinings en alarmstelsels by die plek waar ek werk, ‘n paar jaar terug ‘n inbraak plaasgevind waar rekenaartoerusting gesteel is. Ek het dus besluit om geen kanse te wag nie en liewer vroegtydig hierdie nuwe items gespesifiseer by my versekering.

‘n Eenvoudige proses om items by versekering te voeg

Om jou versekeringkontrak op te dateer en nuwe items by te voeg is baie eenvoudig. Dit het my basies ‘n oproep gekos bloot om die kwotasie te verkry en besonderhede te bevestig. Ek is gevra na die waarde van die item en het besonderhede per e-pos gestuur vir my versekering en is meegedeel dat die premieverhoging ‘n skamele R6.84 sal wees vir die rekenaarskerm ter waarde van R2,275.

Ek is heeltemal bereid om daardie bedrag te betaal vir ‘n bietjie rustiger slaap elke nag! Ek neem aan dat my betreklik skoon eise geskiedenis ook bydra tot die bekostigbare premie.

Dieselfde het ek ook gedoen met die aankoop van die Go-Pro kamera. Hierdie is ‘n baie oulike toestel waarmee kort video produksies gemaak kan word.

Versekering van Kameratoerusting

‘n Kamera of video kamera is iets wat baie handig te pas kan kom by die afneem en stoor van inligting oor jou versekerde items tuis of by die werk! Dit is iets wat ons in meer detail ook sal wil bespreek!

Kyk gerus na hierdie video geneem met die GoPro HD 2:

Is daar waardevolle items wat jy nog nie verseker het nie? Moenie huiwer om ‘n kwotasie aan te vra en te kyk hoe maklik dit is om jou versekering op datum te kry nie!

Posted on by jonckie

Comments Off on Spesifiseer altyd nuwe waardevolle items by jou versekering!