Die selfvertroue van diewe maak voertuigversekering ‘n noodsaaklikheid!!

Die media het die afgelope week heelwat blootstelling gebied aan die misdaad voertuigdiefstal. Verlede week het ons die waarskuwing gevind aan motoriste om versigtig te wees wanneer hul die motor sluit met immobiliseerders.

Daar is heelwat voertuie gesteel in die Johannesburg omgewing deur diewe wat ander immobiliseerders gebruik om die seine te verwring en die voertuig sodoende oop te hou! Daar word dan dikwels waardevolle items uit die voertuie gesteel.

Daar is selfs verlede week van hierdie verdagtes in hegtenis geneem in die Rosebank area.

‘n Belangrike aspek om in ag te neem vanuit die oogpunt van versekering is dat meeste versekeraars net dekking sal verleen waar daar diefstal uit ‘n voertuig plaasvind en daar tekens of bewyse is van fisiese geweld en inbraak in die voertuig.

Daar was ook ‘n baie interessante artikel deur Candice Bailey wat verskyn het in die “The Star” nuusblad. Hier het die artikel gefokus op die gemak waarmee motordiewe in ‘n voertuig inbreek en daarmee wegkom.

Diewe vertel hoe maklik dit is om ‘n voertuig te steel

Dit is belangrik dat motoreienaars besef hoe maklik diewe hul voertuie kan steel. Dit is onrusbarend dat daar by hierdie diewe weinig twyfel bestaan dat hul geen probleem sal ondervind om ‘n motor te steel nie – en dit ten spyte van al die veiligheidsmaatreëls wat ons meen voldoende is om ons voertuie te beskerm!

Die voertuigdiewe wat ondervra is het verduidelik dat die steel van party voertuie ‘n minuut neem, ander 2 minute en nooit langer as 5 minute nie. Die bedrag wat hul hieruit kan verdien wissel tussen R3,000 en R30,000 afhangende van die voertuig wat gesteel word!

Dit is ook interessant om daarop te let dat inkopiesentrums ‘n gunsteling area is om voertuie te steel juis vanwee die verskeidenheid voertuie beskikbaar.

Hoe word voertuie gesteel en wat is die gunsteling voertuie om te steel?

Uit die artikel en gespek met die diewe blyk dat ‘n sogenaamde “spooksleutel” dikwels gebruik word en ook die “L” sleutel wat skerp gemaak word om die deur oop te maak of die voertuig aan te skakel.

Die Golf en Yaris is hoog in aanvraag maar die Toyota Fortuner blyk steeds die gunsteling voertuig te wees vir voertuigdiewe. Dit is veral die 4×4 voertuig wat die gewildste is veral om oor die landsgrense te neem. Daar word ook die meeste geld betaal vir 4×4 voertuie.

Sommige van die voertuie word ook na die skrootwerke geneem en uitmekaar gehaal sodat onderdele apart verkoop kan word.

Party diewe werk net op bestellings en fokus selfs op spesifieke fabrikaat voertuie. Die een voertuigdief het aangedui dat voertuie bestel word en dit is sy taak om dit binne 2 dae te lewer. Hy werk gewoonlik in ‘n span saam met 2 persone waar een die situasie bly dophou vanuit ‘n ander voertuig.

Wat van alarmstelsels en opsporingstoestelle?

Dit is kommerwekkend om te sien dat hierdie stelsels weinig afskikwaarde vir die gesoute voertuigdief het. Ook voertuigwagte by inkopiesentrums en die polisie sal hul nie afskrik nie.

Daar word verskillnde metodes deur die diewe gebruik om te waak teen opsporingstelsels. Die een person sal self kyk en soek vir die opsporingstoestel terwyl die ander gebruik sal maak van ‘n kundige by wie hy die voertuig aflaai ten einde die stelsel buite werking te stel.

Voertuigwagte word dikwels met so min as R100 omgekoop om ‘n ‘n blinde oog te gooi wanneer die voertuig gesteel word!

Posted on by jonckie

Comments Off on Die selfvertroue van diewe maak voertuigversekering ‘n noodsaaklikheid!!