Daar sal altyd ruimte wees vir die klein tot medium finansiële dienste onderneming in Suid-Afrika

Met die “GeselsVersekering” webtuiste wil ons graag die vergrootglas plaas op die versekeringsindustrie en nouer let nie net op spesifieke versekeringsprodukte in die mark nie, maar ook wat dit verg om ‘n professionele diens aan die verbruiker te lewer!

Die klein tot medium finansiële dienste onderneming in Suid-Afrika

Met hierdie doelwit voor oë het ek dit goedgedink om ook met ‘n paar kundiges te gesels vanuit die oogpunt van hul spesialiteitsvelde. In hierdie bespreking wil ek graag begin deur te let op die klein tot medium finansiële dienste onderneming – en daar is min plekke beter om te begin as in Bloemfontein in die hart van die Vrystaat.

Ek het hierdie gesprek gevoer met Theo Oosthuizen, besturende direkteur van die maatskappy Salvo Capital. Salvo Capital is ‘n gemagtigde Finansiële Dienste verskaffer, geregistreer by die Finansiële Dienste Raad. [FDR NO 8106]. Salvo Capital was in beide 2008 en 2009 ‘n finalis in die Beste Partyk van Die Jaar Kompetisie aangebied deur Celestis. [Theo sal ook deur baie onthou word as ‘n voormalige Vrystaat, Griekwa en Springbok rugbyspeler.]

Theo Oosthuizen

Salvo Capital het tot stand gekom in die begin van 2004. Ek was nie meer oortuig dat groot maatskappye hulle onafhanklikheid gaan behou nie en dit is iets wat ek nog altyd as baie belangrik beskou het.

Baie kleiner makelarye skakel huidig in binne die raamwerk van groter groepe – wat dink jy is die vernaamste redes hiervoor?

Die nuwe reguleringsvereistes en wetgewing plaas geweldige druk op die kleiner makelaar om te voldoen aan al die relevante wetgewing en daar is ook ‘n koste aspek wat dit vir baie kleiner makelarye aanloklik maak om in te skakel by ‘n groter maatskappy.

Waarom is onafhanklikheid vir jou steeds belangrik?

Dit is baie moeilik om in die beste belang van n kliënt op te tree as jy beperk is in die oplossings wat jy mag aanbied. Makelaars in groot groepe ondervind al hoe meer druk van die groep om slegs hulle goedgekeurde oplossings te gebruik dus word hulle onafhanklikheid al hoe meer beperk.

Wat is jou gevoel ten opsigte van regulering binne die versekeringsindustrie – word daar genoeg gedoen en word dit effektief gedoen?

Ons beskik oor van die beste finansiële en regulerende wetgewing in die wereld. Ek persoonlik dink die Finansiele Dienste Raad beskik nie oor voldoende mannekrag om dit behoorlik toe te pas nie.

Wat is die huidige grootte van Salvo Capital ten opsigte van personeel?

Ons is tans n personeel van 11.

Wat is die fokusareas van die besigheid ten opsigte van beide dienste gelewer en geografiese fokus?

Ons spesialiseer binne die maatskappy en gee advies rakende beleggings, lewens, korttermyn en werknemervoordele. Ons doen huidig besigheid in die Vrystaat, Noord Kaap, Gauteng en Wes Kaap.

Kan jy ‘n persentasie indeling gee ten opsigte van kliente rakende professionele persone, entepreneurs / besigheidsmanne, boere en afgetredenes?

Hierdie indeling sal ongeveer soos volg wees : 30%,25% 15%,30%

Daar is baie direkte bemarkingsmaatskaapye in veral die versekeringsindustrie – glo jy dat daar altyd plek sal wees vir die makelaar in korttermyn en waarom dink jy so?

‘n Sekere deel van die mark sal geneem word deur direkte maatskappye, maar ek dink die mark raak versadig. Daar sal altyd gespesialiseerde advies benodig word waar kliënte leiding nodig het en waar die makelaar dan die rol moet vervul.

Hoe belangrik is voortdurende opleiding van personeel en watter maatreëls is in plek om te verseker dat personeel behoorlik opgelei is om na kliënte se behoeftes om te sien?

Salvo het n formele opleidingsregister en elkeen in die kantoor ontvang indiensopleiding maar is ook verplig om eksterne kursusse by te woon. Die bemarkers moet met die nuwe wetgewing 60 krediete oor n periode van twee jaar verdien ten einde sy status as adviseur te behou. Laasgenoemde word geoudit deur jou nakomingsbeampte en word deurgestuur na die FDR.

Is jy gemaklik met die huidige ervaring en vlakke van opleiding van personeel?

Ons kan nooit maar net in gemak terugsit nie. Ons is altyd in proses om kennisvlakke te verbeter en dit sal altyd ‘n deurlopende proses bly.

Hoe belangrik is gereelde kommunikasie met kliënteWatter metodes word gebruik om te kommunikeer met kliënte?

Baie belangrik, ons praktyk se kliënte is gesegmenteer en elke kliënt ontvang diens deur die gesegmenteerde model. Ons kommunikeer deur direkte afsprake, email, sms en telefoonoproepe en al die maatskappye met wie ons besigheid doen moet volgens wetgewing kwartaal verslae stuur aan kliënte deur die pos of elektronies.

[Salvo Capital kan bereik word in Bloemfontein by telefoonnommer 051-4018200 of by hul webtuiste by www.salvocapital.com]

Photo by Denese Lups / Phototalk

Posted on by jonckie

Comments Off on Daar sal altyd ruimte wees vir die klein tot medium finansiële dienste onderneming in Suid-Afrika