Wanneer sal die versekering my voertuig as afgeskryf beskou?

Dit blyk dat die waarde van ‘n voertuig nie net by aankoop baie belangrik is nie, maar ook by die vraag wat die waarde van daardie voertuig is na ‘n ongeluk en of dit dalk liefs afgeskryf moet word…

Selfs die Ombudsman in Engeland het aangetoon dat die afskryf van ‘n voertuig een van die vernaamste geskilpunte is tussen motoreienaars en hul versekeraars! Versekeraars voer aan dat die publiek heel moontlik nie voldoende tred hou met die motormark nie en dat hul dikwels die vervangingswaarde van hul voertuie oorskat.

Ek wil graag van nader kyk na die afskryf van voertuie en wat belangrik is vir die versekerde voertuigeienaar om altyd in berekening te hou.

Vir die gewone motoreienaar is dit onmoontlik om ‘n akkurate beraming te doen van wat dit sal kos om ‘n voertuig te hestel. Dit is ‘n algemene bespreking by die werksplek om te raai wat die skade aan ‘n voertuig is. Heel dikwels sal ons ook hoor dat iemand sê “Jy sal nie glo wat dit gaan kos om my motor te hestel nie”.

Dit is ook heel dikwels nie ekonomies regverdigbaar om die voertuig te herstel nie en dan word ons meegedeel dat die voertuig “afgeskryf” is. In Engels word hierdie boodskap dikwels oorgedra met die terme “the car is a write –off” of “the car is totalled” of “is a total loss”.

Die versekeringspolis en die beluit om ‘n voertuig af te skryf

Dit is vanuit die staanspoor belangrik om te let op die bepalings in die versekeringskontrak. Hierdie kontrak is die gevolg van ‘n wilsooreenstemming tussen die versekerde motoreienaar en die versekeraar en waar hul op die terme daarin vervat ooreenkom.

Die motorversekeraar bepaal die riglyne aan die hand waaraan besluit word of ‘n voertuig afgeskryf moet word al dan nie. Dit word dan ook so bepaal in die voertuigversekeringskontrak. Die kontrak voorsien dekking vir skade en verlies en die versekeraar sal ingevolge die ooreenkoms van professionele persone gebruik maak om daardie skade of verlies te bepaal.

Wat gebeur wanneer my voertuig beskadig word?

Na ‘n ongeluk of ander skade aan die voertuig stuur die versekeraar ‘n gekwalifiseerde assessor ten einde die skade te bepaal. Hierdie assessor bereken die skade in geldelike terme en vergelyk dit dan met die waarde van die voertuig.

Eenvoudig gestel – Indien dit meer sal kos om die voertuig te herstel tot ‘n aanvaarbare en padwaardige standaard as wat die huidige waarde van die voertuig is, sal die versekeraar besluit dat die voertuig eerder afgeskryf moet word.

Watter faktore word in ag geneem deur die assessor/ versekeraar?

Dit is uiters belangrik dat ons besef dat daar meer is om in ag te neem as bloot die fisiese skade in die besluit om te herstel of af te skryf

Faktore om in ag te neem sluit in:

• Die koste van herstel te einde te voldoen aan noodsaaklike standaarde vir padveiligheid.
• Stoorkostes terwyl die voertuig herstel word – dit is iets wat deur sommige internasionale versekeraars in ag geneem word hoewel Suid-Afrikaanse versekeraars dit dikwels nie in die berekening insluit nie.
• Huurgelde – Indien die versekeringskontrak voorsiening maak vir die verhuring van ‘n voertuig terwyl die beskadigde voertuig herstel moet word kan die versekeraar hierdie bedrag in aanmerking neem aangesien dit die uitgawes vir die versekeraar sal vermeerder. Daar is egter ook Suid-Afrikaanse versekeraars wat bevestig het dat dit nie die geval sal wees nie en dat hierdie uitgawe by die premie in berekening geneem moet word en nie by die besluit om die voertuig af te skryf al dan nie.

Dit bly belangrik om te besef dat versekeraars verskil van mekaar – en dat hul ook mag verskil ten opsigte van die wyse waardeur hul bepaal of ‘n voertuig afgeskryf moet word. Die verantwoordelikheid bly op die motoreienaar om navraag te doen en te verseker dat hy verstaan wat sal gebeur indien sy voertuig beskadig word.

Ander faktore soos die beskikbaarheid van onderdele, die ouderdom en toestand van die voertuig ens sal ook in ag geneem word by die besluit om ‘n voertuig te skrap of af te skryf. Dit mag byvoorbeeld lank duur om te wag vir voertuigonderdele wat ingevoer moet word. Strukturele skade waar dit moontlik is dat veiligheid ingeperk kan word deur herstel mag ook lei tot ‘n besluit om die voertuig eerder af te skryf.

Dit is ook belangrik om in ag te neem dat die nie ‘n bloot gelyke opweging van bedrae sal wees nie. Die algemene riglyn in die industrie blyk te wees dat ‘n voertuig liefs afgeskryf sal word is waar die uitgawes meer as 70% van die waarde van die voertuig oorskry.

Werklike kontantwaarde van die voertuig

Wat is die werklike kontantwaarde en hoe word dit bereken?

Hierdie waarde word dikwels bereken as ‘n “billike waarde” wat beteken die waarde waarteen ‘n gewillige koper en verkoper die voertuig sal verhandel teen ‘n armlengte transaksie. Ten einde hierde waarde te bepaal sal die versekeraar ‘n fyn oog hou op die voertuigmark en publikasies wat die waarde van voertuie weergee. Hierdie waardes sal aanpassings weerspieël aan die hand van die ouderdom, toestand en kilometerlesings van voertuie.

Wat gebeur met die voertuig nadat dit afgeskryf is?

Indien jou voertuig afgeskryf word en gereelde premiebetalings ontvang is, sal die versekeraar ‘n betaling aan die versekerde polishouer doen. Die versekeraar is dan die wettige eienaar van die voertuig en kan doen met die voertuig wat hy wil. Die versekeraar sal heel waarskynlik die voertuig verkoop aan ‘n skrootwerf of herwinningsaanleg ten einde van die kostes te probeer verhaal.

Posted on by jonckie

Comments Off on Wanneer sal die versekering my voertuig as afgeskryf beskou?