Maak seker dat jou kunswerke behoorlik verseker is!

Een van die dae is dit weer die begin van die kunstefeeste oor Suid-Afrika en ‘n geleentheid vir kunstenaars om hul werke uit te stal! Aan die begin van April is dit veral die Klein Karoo Nasionale Kunstefees of KKNK in Oudtshoorn wat duisende besoekers lok. Dit is hier waar heelwat kunstenaars vooraf plekke bespreek om hul verf en beeldhouwerke uit te stal!

Die kunstenaar se grootste vrees is gewoonlik nie net die beskerming en behoud van sy werk hier nie, maar ook die vervoer na en van die uitstalling. Hoe duurder die kunswerke – hoe meer belangrik dat die kunstenaar oorweeg om deskundige advies te bekom rakende die beskerming en versekering van sy kunswerke!

Ek wil graag hiermee ‘n paar basiese wenke verskaf om in ag te neem wanneer jy jou kunswerke verseker:

Wat is die waarde van die kunswerk?

Dit is die heel belangrikste om eerste te let op die waarde van die kunswerke. Die blote feit dat jy versekering oorweeg is juis dat die item vir jou ‘n waarde het en jy besef dat die beskadiging of verlies aan die item vir jou nadelig sal wees! Deur die waarde vooraf te laat bepaal word jy in staat gestel om makliker ‘n eis in te stel en ‘n “regvedige” uitbetaling te ontvang in die geval van skade of verlies.

Hierdie waardebepaling is ook nie maar ‘n duimsuig of raaiery nie. Jy moet bewys kan verskaf van wat ‘n billike waarde is. Die beste metode is om die kunswerk te laat waardeer deur ‘n gerespekteerde kunskenner. Die versekeraar en kunseienaar sal dan ooreenkom op ‘n randbedrag van wat die waarde van daardie item is en in die geval van verlies en na betaling van die ooreengekome premies, vir daardie waarde vergoed kan word.

Beskerm jou kunswerk en wees bedag op gevare

Dit is veel meer as net die kriminele element in die samelewing wat ‘n bedreiging vir jou kuns inhou! Vog, hitte, en selfs klein en groter insekte of rotte kan jou kunswerk beskadig of vernietig! Deskundiges beveel aan dat die volgende eenvoudige stappe geneem word om ons kunswerke te beskerm:

1. Jaarlikse hersiening van versekeringsdekking

Dit is hier waar jou makelaar van groot waarde kan wees. Konsulteer met jou makelaar en doen navraag of jou versekeringsdekking voldoende is. Doen spesifiek navraag of dit insluit aspekte soos sekuriteit, vervoer, restourasie en berging!

2. Versamel en liasseer bewyse

Wat jy nie wil hê nie is die geval van “hy sê  -sy sê” en litigasie oor wat die waarde van die kunswerke was ten tyde van die versekering daarvan. Maak seker dat jou feite agter mekaar is en dat jy die nodige bewyse het ten opsigte van die items en hul waarde. ‘n Goeie wenk is altyd om ‘n video dagboek of foto album saam te stel van die kunswerke en om dit te bewaar in ‘n veilige plek weg van jou woonhuis.

3. Moenie kunswerke bloot op die vloeroppervlak laat rus – lig dit effens

‘n Eenvoudige beginsel is om te verseker dat kunswerk nie net op die vloer rus nie. Lig dit ten minste so 10cm vanaf die vloeroppervlak ongeag of dit geberg of vertoon word. Alle kunswerke moet beskerm word deur te verseker dat water en voeg weggehou word van die kunswerke af!

4. Maak seker dat daar opsporing vir rook is

Die kunseienaar moet navraag doen en verseker dat daar toerusting is wat tekens van rook sal opspoor en die nodige waarskuwingsalarm in werking sal stel. Maak seker dat dit nie maar bloot hoorsê is nie en dat die toerusting wel van tyd tot tyd getoets word!

5. Beveiliging van die kunswerke met aanhegting / montering

Maak seker dat jy die kunswerke beveilig waar dit monteer word teen byvoorbeeld die muur vir uitstalling. Jy wil voorkom dat die kunswerke maklik val in die geval van aanraking en wind. [of selfs aardbewing]

Dit is goeie advies om behoorlik navraag te doen en jou huiswerk te doen ten opsigte van wie jou kunswerke waardeer, vervoer en verseker! Jy sal weet watter ander bekende kunstenaars of kunseienaars daar is en jy kan net daarby baat vind om met hul ‘n geselsie aan te knoop oor hul ervaringe en wie die deskundiges mag wees!

Indien jou kunswerke gesteel word, rapporteer dit by die Kunste Diefstalregister. Besonderhede van jou kunswerke kan hier aangeteken word en ander kunsversamelers bewus gemaak word waarvoor om op die uitkyk te wees!

Besoek ook die volgende skakels in Engels:

Art Insurance should protect from traffic related accidents

Posted on by jonckie

Comments Off on Maak seker dat jou kunswerke behoorlik verseker is!