Hoe kan die verbruiker prysverhogings en inflasie beveg?

Hierdie Desember het ons almal weer besef hoe duur dinge geword het. Ek self het deur ‘n ou album geblaai en op 2 rugbykaartjies afgekom wat dateer uit 1984. Jy kon in 1984 ‘n rugby toetswedstryd tussen die Springbokke en Engeland bywoon vir R12!

Elke jaar voel ons die effek van inflasie. Huidig is die verbruikersprysindeks in die omgewing van 6% en dit is al meer noodsaaklik vir die verbruiker om te kyk waar hy sy rande en sente spandeer!

Daar word verwag dat hierdie verhogings sal voortduur en aan die begin van 2012 is dit veral daardie noodsaaklike uitgawes vir skool, mediese uitgawes en versekering wat die sak ruk!

“Verbuikers sal in Januarie minder geld tot hul beskikking hê en hul sal kreatief te werk moet gaan oor hoe en waar hul hulle geld spandeer”, volgens Martin Janse Van Rensburg van Budget Versekering.

Daar is behoorlike besinning en beplanning nodig om te veg teen die effek van inflasie , stygings in petrolpryse en ander leefuitgawes. Vir sommige is dit voldoende om uitgawes aan luukshede in te kort – vir vele ander is daar egter meer drastiese maatreëls nodig indien hul kop bo water wil hou met hul finansies!

Die gevolge van inflasie

Budget Versekering beveel aan dat verbruikers nie uitstel nie maar dadelik begin om te beplan hoe hul hierdie druk van inflasie en prysstygings gaan beveg en die impak daarvan kan verlig:

“Die opstel van ‘n begroting hoef nie ingewikkeld te wees nie. ‘n Eenvoudige lys van vaste uitgawes en minder dringende uitgawes teenoor die verbruiker se inkomste is al wat vereis word. Sluit in al daardie uitgawes wat jy maandeliks aangaan, met insluiting van huurgelde, rentes, verbanduitgawes, elektrisiteit, selfoonkoste, mediese fonds uitgawes, huishoudelike inkopies soos kruideniersware, petrol, uitgawes aan lone vir die huis en tuinhulp ens.

“Jy moet op hierdie stadium in staat wees om te weet wat jou uitgawes vir 2012 gaan wees ten opsigte van mediese en versekeringspremies, skoolgelde en meeste ander onkostes. Indien jy nie die nodige inligting het nie, begin nou om die nodige inligting van die verskeie diensverskaffers in te samel. Jy sal dan hierdie uitgawes kan vergelyk en kan soek na moontlike besparings – jy mag verras word deur die vele geleenthede vir besparing!

Indien jy na behoorlike ondersoek tot die besef kom dat jy ‘n tekord aan besteebare inkomste gaan ondervind sal jy indringend stappe moet neem on besteding in te kort, sê Janse Van Rensburg.

Areas waar jy moontlik uitgawes kan verminder sluit in:

• Selfoon: Indien jy op ‘n “Pay As You Go” stelsel is vergelyk die jaar se uitgawes en of dit nie goedkoper sou wees om ‘n kontrak uit te neem nie.
• Sateliet /Skottel Televisie: Hierdie is ‘n luuksheid – vra jouself die vraag of jy daarsonder kan klaarkom al is dit vir ‘n wyle.
• Sosiaal en Vermaak: verminder die geleenthede wat jy na vermaaklikheidsplekke gaan en wat jy daar spandeer. Stel realistiese doewitte en as jy dit nie kan bekostig om gereeld uit te gaan nie- bly maar meer tuis!
• Uiteet: Beplan maar eerder ‘n ete wat jy werk toe neem as om baie geld te spandeer op etes by restaurante en wegneem etes by die werk.
• Subskripsies en Ledegelde: Kanselleer daardie subskripsies en ledegelde vir goed of aktiwiteite wat jy nooit gebruik of benut nie.
• Verbandlening: Kyk of jy moontlik jou maandelikse betalings kan verminder met herfinansiering teen ‘n meer gunstige koers of konsolidering van jou skuld.
• Mediese fondse en versekering: Indien jy voel dat jou premies onbekostigbaar duur word, loer rond vir alternatiewe opsies en vergelyk produkte met mekaar.
• Kredietkaarte: Wees versigtig om te veel te spandeer met kredietkaarte. ‘n Oorbesteding op jou kredietlimiet kan jou in groot probleme laat beland. Dit is ook veral duur oor die langer termyn aangesien rentekoerse baie hoog kan wees.

Janse van Rensburg beveel aan dat waar verbruikers onseker is oor die saamstel van ‘n begroting hul moet oorweeg om met ‘n finansiële adviseer, skuldberader of met hul bank te gesels en om hulp aan te klop.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Hoe kan die verbruiker prysverhogings en inflasie beveg?