Hoe is dit moontlik dat 30 mense in een midi-bus ongeluk sterf?

Die slagting op ons paaie duur voort! Vanoggend het ek wakker geword met die nuus dat ‘n midi –bus taxi met ‘n trok gebots het en dat 30 mense in hierdie botsing oorlede is!
Hierdie ongeluk het plaasgevind op die N3 buite Harrismith. My eerste gedagte was dadelik “30 mense” – is dit nie te veel vir enige voertuig behalwe een van die groot passasiersbusse nie? Dit blyk dat daar minstens 34 mense in die midi-bus was en hierdie voertuig is net gelisensieer om 23 mense te kan vervoer!

Vir die afgelope 8 jaar is ek besig met die ontwikkeling van die Arrive Alive webwerf en verskeie blogs oor padveiligheid. Ek het self ‘n ma verloor in ‘n motorongeluk toe ek nog ‘n kleuter was en dit is die inspirasie agter die skep van die ArriveAlive.co.za padveiligheidsinisiatief.

Die afgelope week het ek by 2 geleenthede met Amore Bekker op RSG gesels oor padveiligheid en wenke gedeel oor hoe om veilig by ons bestemmings uit te kom. Hieronder sluit in geduld en ‘n behoefte aan wetsgehoorsaamheid. Vanmiddag moes ek ook lees op Facebook van die noue ontkoming van ‘n vriendin na die onverskillige bestuur van ‘n vragmotorbestuurder buite Smithfield haar amper bokveld toe gestuur het.

Elke keer wat ons egter hoor van so ‘n slagting op die paaie is dit soos ‘n klap deur die gesig en om dit nou in reguit en minder keurige Afrikaans te stel – jy voel soos ‘n “poepol” deur te weet almal weet jy is betrokke om padveiligheid te bevorder, en tog neem die sterftesyfers net toe.

Alledaagse gesig vir paramedice - 27 September 2011

Is hierdie pogings sinneloos en bloot ‘n vermorsing van tyd en energie?

Ek het vanoggend mooi hieroor nagedink. Daar is verskeie nie winsgewende organisasies waar individue hul tyd en energie skenk om padveiligheid te bevorder. Dit sluit in anti -dronkbestuur inisiatiewe, bestuursopleiding, bewusmakingsveldtogte ens. Vir meeste van die stigterslede van hierdie projekte is dit iets wat gesinspireer is deur die verlies aan ‘n geliefde en waarvoor hul geen befondsing van die staat ontvang nie!

Daar is egter net soveel wat hiermee bereik kan word.

Die vraag wat ons moet vra

Om ons eie bestaansreg te bevraagteken en regverdig dink ek die volgende vraag moet geantwoord word:

“Het die bestuurder van die midi-bus taxi geweet van die gevare van ‘n oorlaaide voertuig?”

Ek is van mening dat hy wel bewus was – maar bloot nie omgegee het nie en bereid was om sy kanse te waag… Dit is heel waarskynlik ook waarom hy in die nag bestuur het. Dikwels is hierdie bestuurders bewus van die gevare, maar ook bewus daarvan dat verkeersbeamptes baie meer waarskynlik die voertuig van die pad sal verwyder deur die dag. Daar word ook soms vanaf paaie vertek weg van die hoofroetes af om die nasionale paaie eers later te gebruik.

Indien die bestuurder nie geweet het van die gevare van oorlading nie, dan het bewusmakingsveldtogte geen effek en is sinneloos. Indien hy egter wel daarvan bewus is – dan is die volgende vereiste buite ons beheer en wel in die hande van wetstoepassing.

Verdere vrae:

  • Dan moet ons vra – hoe ver het die oorlaaide voertuig gery en hoe was dit moontlik dat hy sover kon ry?
  • Was daar wetstoepassers op die pad en padblokkades, en hoe was dit moontlik vir die voertuig om verder te ry indien dit gestop was!
  • Wie is die eienaar, maatskappy of organisasie vir wie die voertuig bestuur is – gaan daardie eienaar maar wegkom daarmee dat sy voertuig oorlaai is en gaan hy toegelaat word om voort te gaan om sy besigheid so te bestuur?

Die nare realiteit wat ons in die gesig staar

Daar is baie maniere om ons te beskerm teen baie gevare – maar op die paaie is ons die meeste weerloos! Padveiligheid is ‘n groepsaktiwiteit en ons deel die paaie met mekaar. Daar is ongelukkig weinig wat jy kan doen in ‘n breukdeel van ‘n sekonde indien ‘n onverskillige motoris voor jou inry!

Deur vooraf seker te maak dat lewensversekering in plek is en na jou geliefdes omgesien sal word is weinig gerusstelling wanneer jy op die pad gaan…

Al wat ons elkeen kan doen is om te verseker dat ons nie self daardie onverskillige motoris is nie!!

Ek wil lesers aanmoedig om die Arrive Alive webstuiste te besoek vir meer inligting oor padveiligheid!

Kyk ook na die volgende skakels in Engels:

For more on your commitment to Road Safety:

Pleas For Government To Engage With Road Safety NGO’s To Reduce Road Fatalities!!

View the I-Pledge Campaign

For Live Traffic on your Route view the TomTom Route Planner

Also view:

Road Safety Tips for the Festive Season 

 

 

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Hoe is dit moontlik dat 30 mense in een midi-bus ongeluk sterf?